Die Christen en Gesondheid


Uit Manna Jan/Feb 2008

Christo Lues

 

Kyk jy ook dikwels na die afkondigingsblaadjie in die kerk en sien die name van tientalle siek mense waarvoor weekliks gebid moet word? Te gereeld is daar nie die herstel waarvoor gehoop of gebid is nie.

 

images-34 copy 4

Of het jy al self vorentoe gegaan vir gebed, vertrou dat jy genees is, net om later uit te vind dat die siekte of probleem steeds teenwoordig is?  

 

Wat nou gemaak? Wil God my dan nie gesond maak nie, glo ek nie genoeg nie, of is daar ʼn stukkie van die legkaart waarvan ek nie weet nie? Ons weet immers nie alles nie...

 

God is groot, God is soewerein, soms gee God genesing, soms nie. God is nie aan ons ʼn antwoord verskuldig oor Sy aksies nie. Hy het egter sekere reëls ingestel op aarde. Daar is sekere natuurwette bv. seisoene,  die wet van gravitasie, ens. As ons hierdie wette minag of ignoreer, is daar sekere gevolge. As ek byvoorbeeld van ʼn vierverdieping gebou se dak afspring in die hoop dat God my lewe gaan red, is daar sekere gevolge. Dan kan my reaksie wees; “maar ek glo dan nie in die wet van gravitasie nie” of “ek het dan gebid dat die engele my sou vang”

 

Hoekom gebeur dit dan nie? Kan God Sy eie wette breek? Natuurlik kan Hy! Dink byvoorbeeld aan die skeiding van die Rooi See, manna uit die hemel, verandering van water in wyn, Moses en die brandende bos, Jona en die vis en talle ander. God kan natuurreëls breek. Hy het dit gedoen vir baie spesifieke redes en Hy het die glorie daarvoor ontvang.

 

Waar laat dit ons?

Jy mag vra, maar wat het God, natuurwette en gesondheid in gemeen? Alles! Net soos sekere reëls en beginsels in die natuur geld, is daar sekere reëls en beginsels ten opsigte van God se tempel op aarde, jou menslike liggaam.

Of ons onkundig is, of nie in die wette glo nie, die uiteinde is dieselfde -  ons liggame gaan agteruit – soms vinnig, soms stadig en pynlik.

 

Wat is hierdie beginsels?

Ons voorouers en ouers het baie van hierdie beginsels geken. Sommige, is ou beginsels, nuut toegepas in die postmoderne era waarin ons, ons bevind. ʼn Era waar daar nuwe en eiesoortige aanslae op die liggaam is soos nooit tevore nie.

 

Ek sien die prentjie van gesondheids-beginsels as ʼn legkaart.

Wanneer jy ʼn legkaart vir die eerste keer uit die boks haal, is dit moeilik om te glo dat die stukkies karton ʼn pragtige prent kan voorstel. Stel jou voor hoe moeilik dit is om die legkaart te bou, as jy nie die prentjie buite op die legkaart boks het, wat wys hoe die eindproduk behoort te lyk nie.

As ons die prentjie het kan ons soek en stukkies pas, totdat ons ʼn pragtige legkaart voltooi het, dit geniet en met ander deel.

 

Gesondheids-legkaartstukke.

Vir 'n gesonde liggaam is daar  verskeie  legkaartstukkies nodig om al die sisteme van ons Godgeskape tempel te laat funksioneer, soos die Skepper dit bedoel het.

Baie keer dink ons, ons pas die regte legkaart stukkies in mekaar. Die realiteit is egter dat die prentjie van gesondheid in ons gedagtes, wat gevorm word deur die media baie keer skeef of onvolledig is. Dit veroorsaak dat ons dink ons weet wat ons doen ten opsigte van ons gesondheid, maar steeds ernstige siektes ontwikkel en dan nie verstaan hoekom dit gebeur nie.  

 

In die volgende paar maande deel ek graag met jou 'n paar van hierdie legkaart stukke, en gaan ek jou help om dit maklik in jou eie lewe toe te pas.

 

Die eerste en waarskynlik die belangrikste legkaart stukkie is om die liggaam skoon te maak.

Ek konsulteer mense op ʼn daaglikse basis oor gesondheid, en vind dat die meeste mense se liggame vol gifstowwe is.

Die belangrikste skoonmaakmiddel in die liggaam is goeie kwaliteit gefiltreerde water.  Dis baie interessant om deur Levitikus te lees, en te sien hoe dat God vir byna alle onreinhede water as skoonmaakmiddel gegee het.

Meeste mense wie ek konsulteer reken dat hulle genoeg vloeistof inneem. Alle vloeistof is egter nie goed vir die skoonmaak van die liggaam nie. Jy gebruik byvoorbeeld nie koffie of tee of sap om jou wasgoed te was nie, nee jy gebruik skoon water.

 

Wanneer jy dus jou liggaam wil skoon was van onsuiwerhede is dit uiters belangrik om die regte soort water te gebruik. Gewone kraanwater is eenvoudig nie goed genoeg nie. Om water aan die massas te voorsien word allerhande chemikalieë by die water gevoeg om skadelike goggas dood te maak. Dis ʼn goeie ding, buite die liggaam, anders vrot die water. Binne die liggaam is dit egter nadelig, omdat dieselfde chemikalieë ook die vriendelike bakterieë binne die spysverteringstelsel doodmaak. Hierdie bakterieë is belangrik om sekere van die mikro voedingstowwe uit kos, om te skakel in vorme wat die liggaam kan aanwend om sy selle te voed. Bakterieë binne die spysverteringskanaal is ook uiters belangrik om ʼn gesonde immuunstelsel te handhaaf.

 

Is gebottelde water dan die alternatief?

Omdat bottel water geen van die nadelige chemikalieë bevat wat in kraanwater voorkom nie, word dit as ʼn beter alternatief beskou. Die probleem is egter, omdat daardie chemikalieë nou nie in die water is nie, kan die bakterieë binne die bottel water sommer maklik aanteel. Hierdie bakterieë is nie altyd goed vir die liggaam nie.

 

Die heel beste water is natuurlike, onbesoedelde bergstroom water. Natuurlike water bevat spoorelemente van essensiële minerale wat ons liggaam benodig om korrek te funksioneer. Ons praat nie van die paar bekende minerale wat mens in meeste goeie multivitamien aanvullings kry nie, nee hierdie is minerale in mikro hoeveelhede byvoorbeeld: Fosfor, Gallium, Silver, Ytterbium, Vanadium, Chroom ens. Ons benodig ongeveer sewentig soorte van hierdie minerale in mikro hoeveelhede. Ongelukkig woon ons in die stad  waar bergstroom water is nie die opsie nie.

 

Die beste plaasvervanger vir bergstroom water is gefiltreerde water.

Gebruik is ʼn KDF tipe filter. Hierdie filter bevat geaktiveerde koolstof om die slegte smake en onaangename reuke te verwyder en chloor uit die water te haal. Verder bevat dit silwer om die water te steriliseer van bakterieë en ander ongewenste lewendige organismes. KDF is ʼn allooi van sink en koper wat swaar metale verwyder, maar goeie minerale deurlaat. Afhangend van die vervaardiger se spesifikasies, filtreer hierdie filter gemiddeld 20 000L water, voordat dit vervang moet word. Die koste is minder as 5c per liter!

 

Omdat kraan water deur groot suiwerings aanlegte gaan en behandel word, voordat dit by die filter ingaan, is die gefiltreerde water arm aan spoorminerale. Dit is dus nodig om die minerale in die water terug te plaas. Die heel beste vorm van minerale is ioniese minerale, wat natuurlik deur rotse by water gevoeg word soos wat die water daaroor vloei. Omdat ons in die stad woon, behoort ons ioniese minerale by die water te voeg om beide, die mineraal balans te herstel en ook die pH van die water alkalies te maak.

Die hoeveelheid water wat jy behoort in te neem, tydens ʼn ontgiftings periode hang af van jou gewig. Hier is ʼn interessante manier om te sien hoe gesond jou liggaam is ten opsigte van die hoeveelheid water wat jy per dag drink.

Jou liggaam is ongeveer 70% water. Om gesond te wees moet hierdie water gereeld geruil word, soos in ʼn opgaar tenk, anders word dit sleg. Indien jy 85kg weeg (70% water van 85kg = 59liter) en 1 glas water van 250ml per dag drink, neem dit 236 dae om die water massa in jou liggaam te ruil met vars water (59L/250ml=236 dae). Indien jy 2L water per dag drink (koffie, tee, sap en koeldrank word nie as water gereken nie) neem dit 1 maand om die water in jou liggaam te ruil. Die ideaal is om die water in jou liggaam elke 2 weke of selfs korter te ruil.

Party mense reken dat jy te veel water kan drink. Indien jy goeie kwaliteit gefiltreerde water met ioniese minerale daarin drink, is daar geen manier om jou liggaam te beskadig met selfs drie keer die aanbevole hoeveelheid water per dag nie.

 

Tot ons weer gesels, hoop ek jy skaf ʼn goeie kwaliteit KDF tipe water filter aan, en begin om jou water inname daagliks te verhoog. Sorg dat jy ioniese minerale in jou water gooi. Sodra jy begin om jou liggaam skoon te maak, mag jy effense ongemak ervaar soos wat die gifstowwe uit die liggaam onttrek word. Hierdie simptome kan naarheid,  hoofpyne en lyfseer insluit maar is van korte duur, gewoonlik drie tot vyf dae. Dis heel normaal, skadeloos en kom bykans by alle persone voor wat hulle liggame skoonmaak.

 

Maak jou liggaam skoon. Begin die pad van volgehoue gesondheid stap om die taak wat God jou opgelê het, met ywer en durf te kan voltooi!


© Eirene Health Shop 2017